Olimpiese Somerspele 1908

Spele van die IVe Olimpiade
Olimpiesespele van 1908

Gehou in Londen, Verenigde Koninkryk
Deelnemende lande 22 Nasionale Olimpiese Komitees
Deelnemende atlete 2 008 (1 971 mans, 37 vroue)[1]
Items 110 in 22 sporte[2]
Openingseremonie 27 April 1908
Sluitingseremonie 31 Oktober 1908
Amptelik geopen deur Koning Edward VII[3]
Atlete-eed (sedert 1920)
Beampte-eed (sedert 1972)
Olimpiese vlam (sedert 1936)
Vorige Spele 1904: St. Louis (VSA)
Volgende Spele 1912: Stockholm (Swede)

Die Olimpiese Somerspele 1908 (Engels: 1908 Summer Olympics), amptelik bekend as die Spele van die IVde Olimpiade, is tussen 27 April en 31 Oktober 1908 as die langste spele in die moderne Olimpiese geskiedenis in die Britse hoofstad Londen aangebied. Die wedstryde het saamgeval met die Frans-Britse Expo (Franco-British Exhibition), 'n tentoonstelling wat bande tussen die Verenigde Koninkryk en Frankryk, die sogenaamde Entente Cordiale, versterk het.

Die Spele van die IVde Olimpiade word deur koning Edward VII geopen
The Illustrated London News, 18 Julie 1908

In teenstelling met die Olimpiese Somerspele 1900 in Parys en St. Louis in 1904, waar die wedstryde te midde van chaotiese organisasie in die skadu van die wêreldtentoonstellings gestaan het wat gelyktydig aangebied is, het die Londense Spele wye aandag getrek. Dit was veral aan die feit te danke dat meer as twee derdes van alle wedstryde tydens slegs twee weke in Julie in die White City Stadium gehou is. Die stadion, geleë in Shepherd's Bush, was revolusionêr: dit was nie net 'n atletiekbaan nie, maar het ook oor 'n swembad en platforms vir stoei en gimnastiek beskik.

Naas die eintlike "Somerspele" het die IVde Olimpiade drie verdere fases van wedstryde behels. Tydens die "Lentespele" tussen laat April en die middel van Junie is wedstryde in vier balsportsoorte gehou. "Nautiese spele" met watersport-wedstryde buite Londen het tussen die einde van Julie en die einde van Augustus gevolg. Die Spele is in die tweede helfte van Oktober afgesluit met sportsoorte wat in Groot-Brittanje tradisioneel hoofsaaklik in die koue maande beoefen word, soos boks en verskeie balsporte. Danksy 'n yssportarena, waar ys kunsmatig gemaak kon word, is vir die eerste keer ook wedstryde in 'n wintersport gehou, naamlik ysskaatswedrenne.

In teenstelling met huidige Spele was die Olimpiade in 1908 nog 'n groot sportfees vir amateursportlui. Maar die Olimpiese Spele in Londen was die eerste Olimpiade waar nasionale spanne op 'n georganiseerde manier teen mekaar meegeding het, en ook die eerste Spele wat grootskaalse media-aandag getrek het. Vir die eerste keer is Olimpiese wedstryde gefilm en fotografies gedokumenteer, waarby opnames wêreldwyd gepubliseer is. Die Amerikaanse persmagnate Randolph Hearst en Joseph Pulitzer het hul eie wedloop om die hoogste sirkulasiesyfers vir hul dagblaaie gehou en sportbylaes grootliks uitgebrei met uitvoerige artikels oor die Olimpiese wedstryde wat met foto's en tekeninge geïllustreer is.

Baie van die dramatiese karakter, wat die Spele in 1908 gekenmerk het, is deur die Amerikaanse pers aan hulle verleen, insluitende berigte oor vooringenome Britse skeidsregters (alle skeidsregters in 1908 was Britte) wat Amerikaanse deelnemers na bewering benadeel het – tot 'n mate waar koning Edward VII so ontsteld oor die beskuldigings was dat hy volgens gerugte gedreig het om nie die sluitingseremonie by te woon nie.

  1. "Factsheet – The Games of the Olympiad" (PDF) (in Engels). Internasionale Olimpiese Komitee. Desember 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 23 Desember 2018. Besoek op 2 Maart 2018.
  2. "Factsheet – The Programme of the Games of the Olympiad" (PDF) (in Engels). Internasionale Olimpiese Komitee. Oktober 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 22 April 2020. Besoek op 2 Maart 2018.
  3. "Factsheet – Opening Ceremony of the Games of the Olympiad" (PDF) (in Engels). Internasionale Olimpiese Komitee. 11 Januarie 2018. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 25 Desember 2018. Besoek op 2 Maart 2018.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search